SSS-Omnibus 1

by Nerine Ahlers and Alet Steenkamp

Published 1 August 2018
Drie koshuisavonture in een boek!

Waar Lindie en haar vriendinne is, is daar altyd hope pret, avontuur en naelbyt-aksie! Die vyfstuks Lindie, Talita, Mia, Gina en Andrea beleef allerlei opwindende avonture saam in die Bergrif Meisieskool se koshuis. As daar nie gevaarlike skurke op hulle spoor is nie, gebeur daar vreemde dinge op die skoolkamp, of kry een van hulle selfs die kans om dalk 'n TV-ster te word. En tussendeur is daar darem ook oorgenoeg kans vir koshuiskattekwaad aanvang, die nuutste modes en grimering uittoets … en natuurlik 'n bietjie romanse!


Vir die eerste keer verskyn drie van die gewilde SSS-boeke nou saam in een omnibus:


Selfone, skelms en sjokolade

Lindie en haar maats se skooltermyn skop af met allerhande probleme. Wie is die twee geheimsinnige mans wat agter Lindie en Talita aan is – en wat wil hulle hê? En dan is daar nog Gina se katastrofiese nuwe haarstyl, Matrone wat 'n sjampanjebottel ontdek het en vasbeslote is om die skuldiges uit te snuffel, en die aantreklike Diaan met die kuiltjies wat Lindie se bene lam maak …


SMS'e, skurke en spinnekoppe

Vier dae in die bos… Dit is wat vir Lindie en die res van die graadneges voorlê op die skoolkamp. Die enigste ligpuntjie is die luukse lodge met die Franse sjef waarvan Mia praat. Maar voordat die kamp begin, is daar eers 'n nare onderwyseres wat 'n les geleer moet word. En iemand sorg daarvoor dat Diaan met die blou oe en die kuiltjieglimlag dalk nooit weer met Lindie gaan praat nie. 'n Verskriklike ding gebeur egter op die kamp wat hulle gou van al hierdie probleme laat vergeet…


Sepiesterre, sokkies en skobbejakke

Lindie en haar vriendinne is baie opgewonde oor die revue wat by die skool aangebied gaan word. Dit gaan fantasties wees en iemand gaan boonop gekies word om in 'n sepie te speel. Dink net, een van hulle kan dalk op TV wees! Ongelukkig kry hulle 'n nare verrassing toe hulle sien wie die nuwe dramajuffrou is…

SSS-Omnibus 2

by Nerine Ahlers and Alet Steenkamp

Published 1 February 2019
Waar Lindie en haar vriendinne is, is daar altyd hope pret, avontuur en naelbyt-aksie! Die vyfstuks Lindie, Talita, Mia, Gina en Andrea beleef allerlei opwindende avonture saam in die Bergrif Meisieskool se koshuis. Nog vier van die gewilde SSS-boeke verskyn nou saam in een omnibus:

Seesand, sonbrille en smokkelaars
Lindie-hulle kan nie wag om op Seesterbaai te gaan vakansie hou nie. Vyf dae van sand, see, son ... en daar aangekom, ontmoet hulle boonop twee sexy lewensredders! Maar alles is nie pluis op Seesterbaai nie – iemand is met skelmstreke besig wat Lindie-hulle in groot moeilikheid kan laat beland ...

Spoke, speurders en straatkafees
Parys. Die stad van romantiese straatkafees. Aantreklike ouens. En boonop die modehoofstad van die wêreld. Lindie en haar vriendinne kan nie wag vir die toer na Frankryk nie. Maar sommer op die lughawe begin dinge al skeefloop ... Wie is die geheimsinnige donkerkopman op die vliegtuig? En hoekom voel dit of iemand hulle in Parys agtervolg?

Skaduwees, skatte en skelmstreke
Die nuwe skooljaar skop op 'n besige noot af. Lindie se pa trou binnekort. Haar vriende oefen vir 'n padwedloop. En almal is opgewonde oor die Valentynsbal wat voorlê. Maar soos gewoonlik probeer Danelle om dinge vir Lindie-hulle moeilik te maak. En natuurlik is dit haar skuld dat Lindie en Gina douvoordag een oggend by die koshuis moet uitglip en by die grillerige begraafplaas gaan rondsluip. Wat hulle daar sien, is genoeg om enige iemand nagmerries te gee – 'n oop graf, en 'n hand wat uit die graf te voorskyn kom. Wat is by die begraafplaas aan die gang? En sal Lindie-hulle hierdie nuwe raaisel kan oplos?

Soene, sonroom en seestrome
Lindie en haar vriendinne, Gina, Mia, Talita en Andrea, beleef oudergewoonte hope opwinding en avonture in die Bergrif Meisieskool se koshuis. Gina smokkel twee oulike baba-konyntjies die koshuis binne, en dit is glad nie so maklik om hulle vir Matrone weg te steek nie. 'n Aand van skelm-fliek loop boonop skeef toe die kwaai nuwe wiskundejuffrou die vier vriendinne uitvang. En dan is daar die skreeusnaakse voorval met die luislang, wat selfs op YouTube beland ... Maar ten minste lê daar vir Lindie-hulle 'n fantastiese wegbreek-naweek in Durban voor. Mia speel in 'n sepie en hulle gaan almal die kans kry om ekstras te wees – en dit beteken hulle kan die hele naweek lank in hulle swemklere op 'n luukse boot in die son rondlê. Maar toe Mia per ongeluk met 'n geheimsinnige pakkie opgeskeep sit, begin die moeilikheid hulle agtervolg. Waarom kom soek twee geheimsinnige mans helder oordag in die koshuis na die pakkie? En waarom kry Lindie die gevoel dat hulle agtervolg word ...?